Digital humanities: A case of doing and thinking

*Short English summary below the text
ʼn Videoreeks oor intensiewe vorme in Afrikaans
Author: Benito Trollip SADiLaR’s Afrikaans researcher – Original post

Digitale humaniora is ʼn saak van doen én dink

Digitale humaniora [1] , beter bekend as Digital Humanities (hierna DH), is ʼn vangnetbegrip wat gebruik word vir studies waarin elemente van onder andere rekenaarwetenskap en geesteswetenskap ingespan word. Volgens Dobson (2019:1) is DH ʼn begrip wat vroeg in die een-en-twintigste eeu ontstaan het om ʼn klomp nieverbandhoudende strategieë en benaderings bymekaar te bring te midde van die toenemende digitale transformasie van die alledaagse lewe en werk van geesteswetenskaplikes. Algemene voorbeelde van DH is kunsmatige intelligensie soos Windows se Cortana of Google Translate. Taalstudies waarin teks deur middel van sagteware of rekenaarkode ingesamel en verwerk word, is ook voorbeelde van DH. Dieselfde geld vir letterkundige studies waarin skrywers se werke deur middel van rekenaarmatige metodes ondersoek word. In hierdie gedagtestuk word vrae oor die aard en toepassing van DH in die algemeen en in Afrikaans kortliks geopper en bespreek.

ʼn Onlangse publikasie wat ʼn kritiese blik op DH werp, is Dobson se Ciritcal Digital Humanities: The Search for a Methodology (2019). Hy maak ʼn saak uit vir ʼn terugkeer na selfkritiek en ook vir ʼn kritiese ingesteldheid teenoor die metodes wat gebruik word in DH. Vir my het hierdie publikasie ʼn bewustheid geskep van DH se veelvlakkige aard – oftewel die veelvlakkige aard wat dit behoort te hê. Een insig wat ek uit die boek gekry het, is dat sagteware of enige kode wat ons gebruik nie so objektief is soos wat ons onsself oortuig dit is nie. ʼn Ideaal in sommige benaderings tot hedendaagse geesteswetenskaplike navorsing blyk te wees om die geesteswetenskappe minder subjektief en minder afhanklik van die interpretasie van die wetenskaplike se kritiese blik te maak. Komputasionele en wiskundige metodologieë wil voorkom as maniere waarop navorsers of rolspeler poog om hul geesteswetenskaplike werk gedeeltelik van hul subjektiewe interpretasie te stroop. Uiteindelik is sagteware, rekenaarkode en formules gemaak deur persone met ʼn sekere wêreldbeskouing wat gekies het om sekere goed in te sluit en ander goed uit te sluit toe hulle die sagteware ontwikkel het. Alles gaan met bepaalde vooroordele en uitsluitings gepaard en ʼn bewustheid en kritiese ingesteldheid daaroor is nodig in DH. So ʼn ingesteldheid sal veral geloofwaardigheid verleen aan argumente dat geesteswetenskappe digitaal móét word. Om krities te wees oor die metodes wat jy gebruik, is nie dieselfde as om negatief of afkeurend daaroor te wees nie. ʼn Erkenning van tekortkominge is uiteindelik voordelig vir die algehele wetenskaplike agenda en bied ander die geleentheid om voort te bou op jou werk. Dobson se boek is broodnodige leesstof vir enige geesteswetenskaplike wat reeds deel is van die DH-wêreld of selfs op hierdie stadium net daaroor wonder.

DH is lank nog nie ʼn gevestigde begrip in die Afrikaanse navorsingsgemeenskap nie, altans nie tot so ʼn mate dat dit uit die titels of opsommings van akademiese bydraes blyk nie. Dit wil nie sê dat navorsers of rolspelers nie DH-elemente in hulle werk het nie, dit word bloot nie so geëtiketteer nie. Vrae wat in toekomstige gesprekke oor DH onder belanghebbendes bespreek behoort te word, sluit die volgende onversadigde lys in:
(1) Wat kan die redes wees waarom DH nog nie ingeburger is in die Afrikaanse
navorsingsgemeenskap nie?
(2) Wat is die mate van gesprekvoering tussen studente, akademici en ander rolspelers
oor DH in geesteswetenskappedepartemente?
(3) Tot watter mate word die konseptuele invloed van DH met belanghebbende
bespreek alvorens DH-metodes aan hulle gedemonstreer word?

Ek wil hierdie opiniestuk afsluit met die voorstel dat daar baie meer gesprekvoering tussen rolspelers behoort plaas te vind. Dit moet in gedagte gehou word dat DH meer behoort te wees as die afdwing van ʼn rekenaarmatige regime op die geesteswetenskappe vir redes soos befondsing en relevansie, aangesien dit eintlik bydra tot ʼn afname in die legitimiteit van die navorsing as die metodes nie krities gemotiveer word nie. Die konseptuele invloed van digitale metodologieë op geesteswetenskaplike vraagstukke behoort indringende aandag te geniet. Die groot ideaal (volgens sommiges) om ʼn objektiewer geesteswetenskappe te vestig, sal aandag moet geniet. Is dit nodig? Moet die kritiese blik van die persoon wat die navorsing doen, gestil word? Is daar nie ʼn inherente subjektiwiteit teenwoordig in geesteswetenskaplike werk nie? Is die kritiese opinies en argumente van geesteswetenskaplikes nie ʼn kardinale deel van wat hul werk van ander wetenskaplikes s’n onderskei nie?

Vrywaring: Die uitsprake gemaak in hierdie blog is dié van die skrywer en die insigte of wanopvattings voortspruitend is sy eie. Die huidige weergawe van die blog is ʼn bygewerkte weergawe van die oorspronklike wat op 6 Februarie 2020 verskyn het. 

Short summary and English title:
Digital humanities: A case of doing and thinking
In this piece questions are raised pertaining to how digital humanities (DH) is approached in general and in the Afrikaans research community specifically. It should be an important consideration to think about the interaction between the digital and the humane when undertaking a DH-project. An appeal is made to think and converse about digital methodologies before they are applied to humanities research.

Notas

[1] ʼn Ander begrip wat al in Afrikaans gebruik is om na digitale humaniora te verwys, is digitale geesteswetenskappe wat deur Senekal (2011) gebruik is. Digitale humaniora is in ʼn webblog wat op YouTube gevind kan word by
https://www.youtube.com/watch?v=A_NJfnAYYUk&feature=youtu.be gebruik, asook in Greyling (2017).

Bronnelys 

Dobson, James E. 2019. Critical digital humanities: The search for a methodology. Illinois: Illinois Press.

Greyling, F. 2017. Plekspesifieke digitale literatuur: samespel en wisselwerking in nuwe kontekste. LitNet Akademies, 14(2):147-189. Beskikbaar by:
https://journals.co.za/docserver/fulltext/litnet_v14_n2_a6.pdf?expires=1582181189&id=id&accname=guest&checksum=7952611AEBA0D4DE34564B36129AC76E. Besoek op 20 Februarie 2020.

Senekal, B.A. 2011. Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21steeeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde. LitNet Akademies, 8(2):46-65. Beskikbaar by: https://journals.co.za/docserver/fulltext/litnet/8/2/litnet_v8_n2_a3.pdf?expires=1573202367&id=id&accname=guest&checksum=573159D761F506A3F333DE418C89D217. Besoek op 8 November 2019.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s